Mine
– Abrie Fourie (kurator)
UJ-galery, Johannesburg
Die titel vir dié versameling kortflieks deur Suid-Afrikaanse kunstenaars ontleen Abrie Fourie aan die gelyknamige 1991-animasiefliek van William Kentridge.
Dié fliek is deel van Nine Drawings for Projection (gemaak tussen 1989 en 2003) waarin die verhaal vertel word van Soho Eckstein as sakeman (en in Mine as myneienaar).
In dié flieks word verskeie aspekte van myn of mine ontgin: die diepgroefmyn waaruit Eckstein sy rykdom buit; die toeëiening van dit waarop die hande gelê kan word; maar ook die woordspel met “ondermyn”.
Myn as aanduiding van posisionering en identiteit kom uiteraard ter sprake en dit is dalk dié gedagte wat deursyfer in die werke van die 18 ander kunstenaars.
Benewens Kentridge is daar die werk van Bridget Baker, Dineo Seshee Bopape, Doris Bloom, Jacques Coetzer, Teboho Edkins, Simon Gush en Dorothee Kreutzfeldt, Donna Kukama, Michael MacGarry, Nandipha Mntambo, Zanele Muholi, Cedric Nunn, Robin Rhode, Berni Searle, Lerato Shadi, Penny Siopis, Gregg Smith, Johan Thom en Minnette Vári.
Vári se Alien spook jare later (en nog net so sterk soos in 1998 toe dit gemaak is) met vreemdelingskap en vervreemding.
As sy toe aspekte soos vrees, begeerte, besit, verlies en ’n bewussyn van die self teen die agtergrond van ’n onderdrukkende regime verbeeld het, is haar Alien nou allermins vreemd.
Fourie se samestelling van die uitstalling – wat ook vertoon is in Bayreuth, Duitsland, en Dubai, Verenigde Arabiese Emirate – is besonder behendig gedoen. In stede van oorhel na die swaarmoedige sluit hy op speelse wyse ook die anargistiese werk in van Rhode en die melancholiese Temporary Rebellion (2008) van Coetzer.
Dié dokumentasie van ’n openbare performance op die N1 vergestalt iets van die individu se insulêre bestaan buite die hoofstroom.
Neffens die bedrywige oggendverkeer op die snelweg sit ’n tromspeler en speel sy hart uit.
Fourie se uitstalling verg dat ’n mens tyd moet bestee, meer as wat die gemiddelde besoeker aan ’n galery wel doen.
In die konteks van die uitstalling tree die onderlinge werke met elkander in gesprek en kry die individuele werke ’n aanvullende betekenis.
Wat ’n sinryke aanbieding.
– Johan Myburg
This article originally appeared here: http://www.beeld.com/Vermaak/Nuus/Mine-die-werk-van-knap-kurator-20120321