
Eyes wide shut – Santu Mofokeng
Die werk van die Johannesburgse fotograaf Santu Mofokeng kom heel dikwels in my gedagtes op wanneer ek dink oor die moontlikhede wat kontemporêre kuns kan bied in Suid-Afrika.
Vir my is Mofokeng se fotografie een van die beste kontemporêre voorbeelde van hoe kuns soms uiteenlopende idees om skoonheid, die persoonlike, die politieke en die sosiale kan vereenselwig; sonder om slegs ’n illustrasie of abstrak te wees.
Een van Mofokeng se bekendste werke, ‘Ishmael: Eyes Wide Shut’ (2004), lyk op die eerste oogopslag eenvoudig na ’n portret van Mofokeng se sterwende broer, Ishmael. Hy is nog ’n slagoffer van MIV/vigs, wat soos ’n verwoede veldbrand deur Suid-Afrika aanhou hits. Mofokeng het die portret in die Motualeng-grotte op die grens van Suid-Afrika en Lesotho geneem. Dié grotte is welbekend as die eindbestemming van menige pelgrimstog deur swart Suid-Afrikaners.
Soos Mofokeng dit stel, is die grotte “natuurlike katedrale” waar mense al deur die eeue bymekaarkom op soek na die spirituele. Miskien in vandag se besige, materiële stadslewe kan die grotte ook verstaan word as ’n ruimte van ontsnapping en die mens se soeke na stilte.
In ‘Eyes Wide Shut’ wil dit voorkom of Ishmael se oë terselfdertyd half-oop en half-toe is terwyl sy lyf nog stilweg, solied bly voortbestaan. Op die gietswart, plat agtergrond beweeg drie figure vaagweg rond. Dit is of Mofokeng twee verskillende, effe deursigtige fotografiese afbeeldings oor mekaar geplaas het om die effek van beweging te bewerkstellig.
In ietwat tegniese terme is dit natuurlik nie die geval nie. Deur die fotografiese negatief langer bloot te stel aan lig kan ’n mens die liggaam se beweging oor tyd in ’n enkelskoot vasvang.
In kort, vir my is ‘Eyes Wide Shut’ letterlik ’n ruimte van wonder: In die sin van ’n diepe onsekerheid oor presies waarna ’n mens kyk (is Ishmael se oë dan oop of toe?), asook die meer fantastiese idee van ’n wonderwêreld waarin die alledaagse ander, meer onsekere dimensies aanneem.
In ander prominente voorbeelde van Mofokeng se werk vind ’n mens baie dieselfde, amper magiese aanslag. In ‘Buddhist Retreat, Near Pietermaritzburg’ (2003) kan ’n mens slegs wonder oor watter soort wit, vierbeen gedierte – oënskynlik sonder kop – sal rondwandel in die donker woud (dit is ’n perd). Of in ‘Sacred Animals’ (1996) blyk dit dat een boerbok op die rug van ’n ander balanseer.
Die sorgvuldigheid waarmee Mofokeng te werk gaan om skoonheid en konsep te vereenselwig, gee gestalte aan fynbesnede kunswerke waarin die grense tussen fiksie en realiteit, die materiële en die spirituele, kuns en die groter samelewing noukeurig herdink word. Dié grense word in Mofokeng se werk amper soos ’n stil dier wat gereedstaan om te spring. Maar anders as ’n dier wat jag, is geen duidelike prooi in sig nie. Die oomblik van onsekerheid wat hier ter sprake is, is ’n uitnodiging vir kreatiewe denke: Hier vang ons drome.
Johan Thom
Johan Thom is ’n kontemporêre visuele kunstenaar wat in Londen woon en werk. Hy is veral bekend om sy performance-kuns, video’s en video-installasies.
Die lyf speel ’n groot rol in Thom se werk en hy span sy eie lyf dikwels in en onderwerp sy liggaam aan uiterstes in ’n poging om transformasie aan te dui.
Sy werk is enigmaties en speels en Thom bevraagteken vooropgestelde idees omtrent identiteit, die lyf, politiek en kennis.
– Die Burger
Original text on web (Opens in a new window)