In Julie 1975 poog die Nederlandse kunstenaar Bas Jan Ader om die Atlantiese Oseaan van Amerika alleen te kruis.
Ader vaar die water in met ’n seilboot wat 12,5 vt (3,86 m) lank is – die kleinste boot waarmee die tog ooit aangedurf is.
Vir Ader vorm hierdie amper bomenslike taak deel van ’n kunswerk met die semi-magiese titel In Search of the Miraculous.
Ses maande later word die boot op die kus van Ierland gevind. Die houtstruktuur dobber halfgesink soos ’n skelet in die stil water. Van Ader is daar geen teken nie.
Daar is natuurlik altyd hoop. Miskien, soos Koos Kombuis sou sê, is “Bas Jan nie dood nie; hy’s net uitge-pass ”.
Nou en dan is daar opnuut bewerings dat Ader êrens in die wêreld ’n anonieme bestaan voer.
Myns insiens is spanning die groter tema in Ader se oeuvre. Kunskenners beweer sy werk ondersoek die idee van gravitasie.
Maar wat is gravitasie anders as ’n soort spanning tussen vorms? In Broken Fall (Organic), 1971, hang Ader met sy arms aan die tak van ’n boom totdat hy uiteindelik noodgedwonge laat gaan en in ’n watergrag plons.
Nou is hy hier; nou is hy weg.
So dan ook met die idee van ontsnapping.
Hoe kan ’n mens die bekende beperkings van menswees ontsnap? Of hoe sal ’n kunstenaar dan die bitsige onbenullighede van die kunswêreld kan fnuik en ontduik? In hierdie droom is ons mos almal iemand anders, met ’n ander, meer genoegsame lewe. (“As ek tog net kon reïnkarneer as ’n miljardêr!”)
Natuurlik is die romanse sterk hier. Ader as Vincent van Gogh? Nog een wat drome kon droom in kleure wat die res van ons nooit eens van geweet het nie.
Dinge is nooit so maklik nie. Telkens is die verhouding tussen drome en die realiteit; kuns en die samelewing meer kompleks as dit. Soos ’n seil wat amper dom-astrant bly uitsteek bo die water ten spyte daarvan dat die boot lankal gesink het.
Snaaks hoe die dinge uitwerk. Vir my is Ader nou meer aanwesig as wat hy was voordat hy verdwyn het, op soek na ’n wonderwerk.
’n Snit uit Bas Jan Ader se 16?mm-rolprent Broken Fall (Organic), 1971, 1 minuut 44sek.
This article originally appeared in Die Beeld
Johan Thom (2011)